WINS OP SUUR UITVALSGROND MOONTLIK

Verskeie wingerd- en vrugteboere in die Boland en ander dele van die Wes-Kaap sit met stukke uitvalgrond wat ongebruik lê en dikwels as nuttelose lappe aarde beskou word. Dit is nie noodwendig nuttelose grond nie. Volgens mnr. Nollie Stofberg van Swartwalle, Worcester, is dit beslis moontlik om deur ’n veefaktor waarde tot hierdie grond toe te voeg.
Nadat hy en sy familie (pa en drie broers) in die 1980’s heelwat grond tot die bestaande familieplaas bygekoop het, was taamlike groot dele daarvan te marginaal om wingerd of vrugte op te plant. Dit het hom egter gepla om die grond nutteloos te laat lê. Grond in die Boland is intensiewe boerderygrond en duur. Hy het toe besluit om na die moontlikheid van ’n veefaktor op dié sowat 250 hektaar marginale suurgrond aan die Breërivier te kyk.

In 1985 het hy ’n klompie Sussex-graaddiere gekoop, met die uitsluitlike doel om die uitvalgrond op sy plaas optimaal te benut. Hy het met tien koeie en ’n bul begin.
Kort daarna het hy egter besef dat om sulke grond werklik optimaal te benut, hy stoetdiere daarop moes aanhou. Omdat hy besef het dat die stoetery klein sou bly weens die veld se beperkings, het hy geweet dat hy diere oordeelkundig sou moes koop.

Waarom het Stofberg op die Sussex besluit? Hy sê hy het besef dat nie enige beesras goed op suurveld sal aard nie. Hy het gaan kers opsteek by mnr. Jan Schutte van Senekal, wat destyds allerweë bekend was as ’n beeskenner. Hy het Schutte vertel van die graad van suurheid van die grond en aan hom gesê hy wil met diere met ’n goeie temperament daarop boer.

Schutte het gesê daar is nie ’n perfekte beesras wat aan ál Stofberg se vereistes kon voldoen nie, maar hy het tog drie rasse voorgestel. Die Sussex was sy eerste keuse omdat hierdie ras bekend is vir sy aanpasbaarheid, selfs op suurveld. “Dié diere vreet eers, dan proe hulle,” het Schutte gesê.

Verder het hulle die ideale raamgrootte, is hulle vir kruisteling geskik en het hulle ’n goeie temperament.

Vandag bestaan die Platdrif-stoetery uit 50 vroulike diere en twee stoetbulle. Die stoetery het dié grootte in 1999 bereik en dit sal nie verder veel vergroot word nie.
Stofberg sê sy Sussex-stoetery is taamlik uniek in die Boland. Hy meen hy het eintlik baanbrekerswerk gedoen, want nadat hy sukses met die Sussex behaal het op marginale grond, het minstens vier ander stoeterye in die streek hul verskyning gemaak. Hy kry heelwat navrae van boere wat dit ook oorweeg om met hierdie ras te begin boer.

Hy het gevind dat diere wat hy in die Vrystaat en KwaZulu-Natal koop, wel ’n oorbruggingstydperk nodig het om van soetveld na suurveld oor te skakel. Diere wat hy aan boere met soetveld verkoop, pas egter dadelik in hul nuwe gebied aan.

Stofberg volg ’n streng seleksiebeleid en koop slegs die beste teelbulle. Hy koop hoogstens twee bulle elke twee jaar en selde meer as vier vroulike diere per jaar. Saam met visuele seleksie word daar streng volgens prestasiemeting- en BLUP-riglyne geselekteer.

Stofberg sê hy selekteer sy beeste op grond van die gewone eienskappe, naamlik goeie melk- en vleisproduksie en ’n goed gevormde uier.

Die heel belangrikste oorweging is egter ’n mediumgroot raamwerk. Op marginale grond, soos waarop die beeste in sy boerdery aangehou word, sal ’n grootraambees nie aard nie. Groot diere vreet meer en op marginale grond moet hulle meer en verder loop om te wei. Hulle is bloot te swaar vir die soort veld waarop hulle op Platdrif – een van sy plase – aangehou word.

Sy vroulike diere weeg 550 kg tot 650 kg. Hy meen dit is die ideale gewig vir sy stoetery.

Stofberg sê ’n boer moet die ideale kalftyd kies volgens die omgewing waarin hy boer en die toestande daar. Dit verskil van gebied tot gebied.

Sy teelbeleid werk soos volg: Op 1 Julie elke jaar plaas hy die bulle by die verse wat die eerste keer gedek moet word sodat die verse teen April van die volgende jaar kan kalf. Die rede hiervoor is dat dit die verse ’n langer gaping gee voordat hulle hul tweede kalf kry. Dit gee hulle ’n kans om voluit te ontwikkel op die swak suurveld, wat ’n demper op groei plaas. Die ouer koeie word eers in Augustus gedek en kalf dan middel Mei. Die stoetery maak hoofsaaklik van natuurlike dekking gebruik.
In die dektyd word die weiding op die plaas in twee kampe verdeel, elk met ’n teelbul en 25 vroulike diere.

Die kalwers loop saam met hul ma’s op die natuurlike suurveld tot speentyd in Desember en Januarie. Vanaf Februarie of Maart tot die winter gee Stofberg byvoeding in die vorm van garsstrooi en ’n onderhoudslek. Dit vul die droëmateriaal op die veld aan en dien as ’n energie- en proteïenaanvulling.

Die natuurlike suurveld bestaan meestal uit rooigras en mak kweekgras, waarop Stofberg dan raai- en oulandsgras en Eragrostis-grasse insaai.

Ná hulle gespeen is, word ál die kalwers in ’n voerkraal byeengebring. Daar kry hulle drie maande lank beeskonsentraat-rantsoene om oor hul speenskok te kom en maksimum groei te behaal. Die jong versies en bulletjies word in afsonderlike kampe gehou. Die bulletjies se gemiddelde speengewig op 205 dae is 250 kg en die versies weeg gemiddeld 220 kg.

Ná drie maande gaan die jong diere terug weiveld toe. Daar bly hulle totdat Stofberg die bulletjies afrond om hulle te verkoop en die versies gereed maak om op die ouderdom van 24 maande gedek te word.

Hy meen dit is voordelig om sy jong verse ’n volle twee jaar te gee om te ontwikkel voordat hulle gedek word. Die verse is goed genoeg ontwikkel om elkeen ’n gesonde kalf te gee wat ook in ’n gesonde vers sal ontwikkel. Hy het al geprobeer om verse op ’n jonger ouderdom te laat dek, maar die nadele daarvan kom duidelik in hul kalwers na vore.
Stofberg selekteer versies op die ouderdom van 15 maande. Die beste verse word vervangingsverse in die kudde, terwyl hy die res aan kommersiële telers verkoop. Omdat hy ’n beperkte getal diere in sy stoetery kan huisves, bring hy by uitsondering vervangingsverse van buite in om die kudde te verbeter.

Die bulkalwers word meestal ná afronding op die ouderdom van 24 maande verkoop, maar hy gebruik wel enkele puik bulletjies by sekere koeie – op só ’n wyse dat inteling voorkom word.

Bulseleksie is belangrik, meen hy, want dit bepaal die gehalte van die tipe diere wat op veilings kom. Daarom word bulletjies wat nie aan seleksie-eienskappe (vi-
sueel sowel as prestasiegetoets) voldoen nie, slagpale toe gestuur.

Dié wat gekeur word, bied hy jaarliks as stoetdiere op die nasionale Sussexveiling in Bloemfontein aan asook op groot veilings op Vryburg en Kuruman. Stofberg hou nie ’n produksieveiling nie omdat sy veegetalle te laag is om dit te regverdig.

Hy pas geen kruisteling toe nie omdat die suurveldweiding dit nie toelaat nie.

Hy koop van tyd tot tyd bulle op die nasionale veiling of op sekere produksieveilings aan. Hy koop slegs diere wat by sy stoetery sal inpas en ’n bydrae kan lewer om sy stoetery te verbeter. Hy ontsien nie lang afstande om die regte bul in die hande te kry nie.

Op veilings kan hy sy eie diere, hul vordering en sy stoetery-gehalte aan ander puik diere en stoeterye meet, meen Stofberg. Dit is nodig omdat sy stoetery so ver van die meeste ander Sussex-stoeterye in die land verwyderd is. Om dieselfde rede skou hy ook.

En dat sy stoetery met ander tred hou, is duidelik. Stofberg het in dié stadium die Sussexbul en -koei waarvoor die hoogste pryse tot dusver vir dié ras in die land betaal is. Die bul Mampudi Settler 13 het hy vir R62 000 van mnr. Willie Anderson van Marquard gekoop het. Vir die koei Huntersvlei Fairmaid 52, wat voorheen aan mnr. Anthony Evans van Viljoenskroon behoort het, het hy verlede jaar R24 000 opgedok.

Afgesien van sy Sussex-stoetery, boer Stofberg met wyndruiwe en sagte sitrus.

Deur: Johan Coetsee